Gehoor van Jennifer Zamudio, lees verder en leer haar ken

Jennifer is gebore in Gansbaai en het grootgeword aan die Weskus dorpie Laaiplek (Velddrif). Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Swartland te Malmesbury. Hierdie gewilde sangeres is die afgelope 25 jaar woonagtig in Pretoria en sing reeds die afgelope 16 jaar professioneel.

Sy het haar sangloopbaan begin by Anneli van Rooyen se sangskool, Promuzik in Pretoria. Jennifer het aan die begin van haar loopbaan bekend gestaan as “Die Singende Pers Sensasie”. Haar pers haarkleur het haar beslis laat uitstaan en word nog lank onthou.

Jennifer is ‘n Afrikaanssprekende sangeres en haar unieke van, Zamudio, is haar eie en is van Spaanse afkoms. Dit word foneties as volg uitgespreek “Za-moe-die-hou”. Jennifer vermaak gehore nasionaal met haar energieke en natuurlike verhoogspersoonlikheid in die kommersiële genre. Sy is al deur die Vrouekeur Tydskrif bestempel as die “Vrou met die Ontwerperstem”. Jennifer se talent is raakgesien in die jaar 2000 tydens die KKNK op Oudtshoorn deur een van die beste musiek promoters in die land, Lydia Winchester.

Jennifer het alreeds ELF solo albums agter haar naam, LEEF, JY IS DIE EEN, EK HET JOU GEVIND, HART SE LOPER, HOOR HOOR, HIER’S MY HART, ‘N DEKADE VAN MUSIEK (‘n dubbel CD ter viering van haar 10 jaar in die Afrikaanse Musiekbedryf), DIE LEWE IS ‘N LIEDJIE, HART EN SIEL, 15 JAAR SPESIALE UITGAWE (ter viering van haar 15 jaar in die Afrikaanse Musiekbedryf) en haar nuutste vrystelling ONGELOOFLIK.

Van haar CD’s het ook aan haar verskeie Nominasies en Toekennings in die musiekbedryf besorg. Sy is ook al ingesluit op 15 verskillende kompilasie albums. Vele van Jennifer se liedjies het al verskeie Nommer 1 en ander top posisies bekleë op plaaslike radio stasies se Treffer Parades.

Haar treffer lied, “Hart en Siel”, wat spesiaal vir haar geskryf is deur die bekroonde en welbekende liedjieskrywer, Rudi Claase was 22 weke op die No.1 posisie op Bosveld Stereo se Top 20. Dit het ook gelei tot die enkelsnit “Sê dit harder” in 2015 wat ook deur Claase geskryf is. Die lied het ook die verskeie No.1 posisies behaal kort na uitreiking. Hierdie is beslis een van Jennifer se loopbaan bestes.

In Junie 2016 reik Jennifer, weer as onafhanklike kunstenaar, haar 11de CD, Ongelooflik uit wat reeds voor vrystelling deur radiostasies bestempel was as “verseker iets om na uit te sien”. Die gelyknamige titelsnit het ook op ‘n paar stasies se Trefferparades gepryk op die No.1 posisie die musiekvideo van die titelsnit tref ook met sukses verskeie TV kanale.

In April 2017 stap Jennifer weg met twee gesogde Ghoema Musiektoekennings in die kategorieë “Beste Country Album” vir haar album “Ongelooflik” en “Publiek se Gunsteling Vroulike Kunstenaar” wat toegeken is na aanleiding van die publiek se stemme wat ontvang is.

Loer hier onder een van haar lekker dans musiekvideo’s:- Jennifer Zamudio – Hou my net ‘n bietjie vas

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.