Emil Paul het ‘n enkelsnit uit net vir Vadersdag

Die sanger Emil Paul se nuwe enkelsnit Man Van Staal is pas vrygestel en is die perfekte geskenk vir pa híérdie Vadersdag.

Die liedjie, wat deur Emil self geskryf is, is ’n popliedjie met ’n akoestiese gevoel en beskryf hoe ’n pa deur die oë van sy kind gesien word, en hoe almal iets kan leer by hul eie ‘man van staal’.

Volgens Emil het hy die snit vir sy eie pa geskryf as ’n verjaardag geskenk in 2017. “Ek het besluit dis nou die tyd om die liedjie as my volgende enkelsnit vry te stel. Ek dink baie enkelouers sal iets uit die liedjie kan leer. Omdat my ma tien jaar terug skielik oorlede is, moes my pa die rol van twee ouers vertolk. Dit was nie altyd maklik nie, maar ek kon nie vir ’n beter pa vra nie,” sê die sanger. “Die liedjie is my manier om dankie te sê vir my pa vir al die jare se opofferings.”

Die liedjie beteken vir Emil baie. En hy vertel: “Ek sê nie altyd genoeg vir my pa hoe lief ek vir hom is nie. In die liedjie kan ek die kans kry om alles te sê wat ek nog altyd wou. Daarom is die liedjie ook baie spesiaal vir my en lê dit tans baie na aan my hart.”

Emil sê hy hoop sy gehoor gaan die liedjie goed ontvang, juis omdat dit voor Vadersdag uitgereik word. “Hopelik kan almal die liedjie gebruik om vir hulle pa’s ook te sê hoe lief hulle vir hulle is. Ek hoop ook dat enkelouers by die boodskap kan baat en dat dit vir hulle nuwe hoop bring.”

Die sanger dink die liedjie is iets anders en sal mense op ’n persoonlike en dieper vlak aanspreek en raak. Nie net is die liedjie maklik op die oor nie, maar dit vertel ook ’n storie waarmee mense aanklank kan vind.

Emil hoop verder dat mense altyd sal nadink wanneer hulle na sy liedjie luister. “Ek hoop my gehoor sal altyd hul ‘man van staal’ onthou. Ek wil ook hê dit moet iets wees wat hulle met familie kan deel en geliefdes saam kan bring.”

Die musiekvideo, wat deur AVC Studios vervaardig is, speel af by die prentjiemooi Bronberg Wynlandgoed se kapel in die ooste van Pretoria. Die simplisiteit van die plek help om die storie te vertel, en om die fokus op die belangrike aspekte van die musiekvideo te hou.

En nes die liedjie self, dra die musiekvideo ’n sterk boodskap oor. Emil brei uit: “Die musiekvideo vertel die storie tussen verskillende pa-kind verhoudings deur verskillende pa’s en hulle kinders, van alle ouderdomme, wat ’n Jenga-speletjie speel uit te beeld. Die musiekvideo gaan die liefde wys, en ek hoop dat mense dit met ’n glimlag op hulle gesig daarna sal kyk.”

En wat lê nog voor vir die sanger? “My planne is hopelik om musiek voltyds te kan skryf en sing en ook ’n lewe te kan maak hierdeur. Ek hoop ook die regte deure sal vir my oopgaan, sodat ek my toekoms en loopbaan ten volle kan geniet,”sê hy.

Emil Paul kom uit ’n musikale familie, maar bieg dat hy wel ’n bietjie skaam was (selfs skaam om in die stort te sing). Hy speel reeds vir jare die klavier en kan ook verskeie ander musiekinstrumente bespeel, meer as vyf. Twee jaar terug het ’n nuwe deur vir hom oop gegaan wat sy lewe onheroeplik verander het, en wat hom gebring het waar hy vandag is.

Hy beskou sy eerste vrystelling, Elke Noot, as een van sy hoogtepunte tot dusver. “Die feit dat die liedjie so goed doen en ek so baie goeie terugvoer kry, is beslis ’n teken dat ek iets reg doen en dit maak my baie opgewonde” sê hy.

Alhoewel hy ’n nuweling is in die musiekbedryf, is sy passie daarvoor nog nie geblus nie. Volgens Emil beplan hy nog baie vir die toekoms, en is hierdie beslis nie die laaste wat mense van hom gaan hoor nie.

Kunstenaars soos Elvis Blue, wat liedjies oor sake van die hart skryf, inspireer hom daagliks. Hy sal ook eendag saam met Joshua na die Reën of Charlize Berg wil werk omdat hy dol is oor hulle stemme en musiekstyl.

Emil skryf graag musiek wat na aan sy hart lê, of musiek wat ’n boodskap oordra. Hy vertel: “Musiek praat sy eie taal wat almal kan verstaan, maar nie noodwendig in ander woorde oorgedra kan word nie.”

As hy nie musiek vir ’n lewe kon doen nie, sou hy graag ’n akteur wou word omdat hy mal daaroor is om nuwe lewe vir ’n karakter te gee. Andersins sou hy iets in die mediese veld wou doen, aangesien hy daarvan hou om mense te help.

Vra jy hom uit oor sy musieksmaak, antwoord hy graag: “Ek hou van musiek wat mense aanspreek, of kunstenaars se persoonlike ervarings uitbeeld. Kunstenaars soos Demi Lovato en Shawn Mendes het ’n groot invloed op my.”

Hy som sy stem op as ’n vars nuwe klank vir Afrikaans en probeer om sy musiek modern, tog betekenisvol te hou. Hy lewe ook graag met die leuse: “When words fail, music speaks”.

En wat weet mense nie van Emil nie? “Ek het nog nóóit Star Wars, Harry Potter of Lord of the Rings gekyk nie. Meeste van my vriende onterf my elke week as hulle daarvan uitvind,” bieg hy en lag lekker.

Emil sê ook dat die musiekbedryf met ’n paar vuishoue gepaard gaan, en vertel oor wat hy geleer het oor die afgelope jaar: “Elkeen moet iets uniek na die tafel bring. Daar is ook ’n plekkie vir elkeen onder die son. Mens moet net sterk staan by dit wat jy vir jou gehoor wil bied.”

Sy selfbeeld was beslis die grootste uitdaging wat hy nóg in die gesig moes staar. Hy sê dat hy te veel begin fokus het op dit wat mense graag sal wil sien of hoor, dat hy die werklike rede vergeet het, die musiek. “Die regte mense sal luister, ongeag van hoe jy lyk of wie jy is,” sê hy.

Hy beplan om volgende jaar musiekproduksie te studeer. En dan is hy ook in sy skik oor die amper 70 000 kyke na sy eerste liedjie, Elke Noot, se musiekvideo binne slegs drie maande. Die pad lyk blink en voorspoedig vir hierdié talentvolle sanger…

Loer hier onder na die treffer liedjie vir Vadersdag:- Emil Paul – Man Van Staal (Offisiële Musiekvideo)

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment